’n Huldeblyk, Winie Rousseau – 26.10.1929 – 03.07.2021

Winie Rousseau, gebore Winifred Louise Schumann, was die eerste sekretaresse van die Departement Joernalistiek vanaf sy stigting in 1978 tot met haar aftrede in 1994. Sy het ink in haar are gehad, was self ’n joernalis, en die pos in 1978 in Crozierstraat was pasgemaak vir haar nadat sy die vorige jaar geskei is van die uitgewer Leon Rousseau, een van die medestigters van Human & Rousseau.

“Mevrou Rousseau”, soos wat altyddeur met ontsag na haar verwys is, was veel meer as sekretaresse vir stigterprofessor Piet Cillié en almal wat oor Crozierstraat 26 se drumpel getree het. Sy was Crozierstraat se heel eerste Moeder Owerste, en het kwaai, maar met deernis, oor die Crozier-kuikens gewaak om die jongelinge op die smalle weg te hou.

Kansvatters het gou geleer sy sien dwarsdeur patetiese verskonings. Toe sekere lede van daardie eerste klas in 1978 besluit het Gordonsbaai se Bikini Beach is veel meer leersaam as Crozierstraat se lesinglokaal, met dié wat tere velletjies gehad het wat dae later nog gloeiend rooi soos ’n kalkoen in die donker geskyn het, het sy hulle voor haar laat aantree: “SKAAM julle! Prof Cillié doen SOVEEL moeite vir julle, en DIS hoe julle hom bedank?!” Eintlik was elke woord in hoofletters. Die spulletjie het druipstert op die agterstoep mekaar gaan troos met ’n koppie Ricoffy – daardie mengsel uit bietjie koffie en baie sigorei waarvoor ons stiptelik elke maand ons R5 by mev Rousseau moes gaan inbetaal om met ’n skoon gewete ’n koppie ongoeie koffie te mag drink.

The sad group went to comfort each other with a cup of Ricoffy on the back porch – that mixture of a bit of coffee and lots of chicory for which we had to pay our R5 punctually every month to Mrs Rousseau to have the luxury of a bad cup coffee with a clear conscience.

Maar sy hét ons op daardie smalle weg gehou. “Moederhen” is een van die woorde waarmee ’n lid van die Klas van ’78 haar beskryf. Nog een: “Winie Rousseau was in ’n kwesbare tyd een van die handjievol moederfigure in my lewe.” Maar sy was ook die een wat gesorg het dat niemand ’n kans vat nie. Soos Bun Booyens onthou uit sy jaar in 1986: Hul roetine het “om Vrydae gewentel, wanneer elk sy weeklikse kwota van drie berigte” by mev Rousseau moes inhandig. Ook: “Sy het forensies boekgehou van hoeveel berigte jy verskuldig was en het klasbywoning ewe nougeset gemonitor. Tot ’n paar van ons se ontnugtering het dit boonop geblyk dat sy nie gehuiwer het om afwesiges tuis te bel nie en bowenal ’n verrassend akkurate mediese diagnose oor die telefoon kon maak: ‘Nee wat, jy klink glad nie siek nie,’ het sy een keer aan my gesê. ‘Kom klas toe.’”

Met haar afskeid in 1994, op 65, ook die jaar waarin die stokkie van Johannes Grosskopf aan George Claassen oorgegee is, het sy in ’n brief die dag ná haar afskeidsgeselligheid aan professor Claassen geskryf: “Ek dink die Departement gedy omdat die regte mens elke keer op die regte tyd daar aangesluit het, en omdat elkeen die ‘common weal’ op die hart dra, nie net van mekaar en van die studente nie, maar ook van die joernalistieke kern-opdrag.”

Winie Rousseau was deel van Stellenbosse adel; haar pa was die ekonomie-professor na wie die CGW Schumann-gebou vernoem is. Maar al het sy “Stellenbossiana” verpersoonlik, het sy jou altyd laat voel dat jy behoort. Soos een uit die Klas van ’78, pas uit Natal, toe nog die Last Outpost of the British Empire, onthou: “Mevrou Rousseau was so much part of the positive energy that made the department so successful that year. I remember I went to Stellenbosch a few days before so that I could organise my accommodation for the year, and as I walked into her office, she looked at me and said: ‘You must be Mr Hopwood.’ I felt so welcomed by her warmth and generosity. I am sure we all felt that and we owe her our gratitude.”

Mevrou Rousseau, daar was net een soos u. Dankie vir die spesiale fondament wat Crozierstraat 26 danksy u gekry het.

Hooffoto: Die een en enigste “Mevrou Rousseau”. (Foto: Bruce Hopwood)

Die klas van 1978; mev Rousseau in die middel (voor die oop deur).

Die klas van 1994, mev Rousseau se laaste jaar, tweede van regs; dit was ook die oorgangsjaar tussen proff Claassen en Grosskopf.

Afrikaans
Na bo