Die departement huldig Anastasia de Vries

Die Departement Joernalistiek neem met groot leedwese afskeid van drs Anastasia de Vries, gevierde joernalis en voormalige Rykie-genoot in die departement.

Netwerk24 haal Anastasia se enigste dogter Ainé aan wat bevestig haar ma het op Dinsdag 27 Augustus in die hospitaal gesterf.

Volgens die Netwerk24-berig, geskryf deur Carl Thomas (honneursklas van 2020), het Anastasia in 1989 by UWK as junior dosent begin werk. Sy het daarna as joernalis gewerk by Die Burger, Beeld en Rapport voor sy in 2014 teruggekeer het na UWK.

Prof Steward van Wyk, hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan UWK, het Anastasia aan Netwerk24  beskryf as “die veelsydigste Afrikaanse dosent”. Van Wyk het ook uitgebrei oor haar besonderse verhouding met haar studente. “Haar kantoor was ’n geborge ruimte waar menige student vertroosting kon vind en gehelp is uit haar ruim beursie,” het Van Wyk bygevoeg.

In dieselfde Netwerk24-berig vertel die digter, dr Diana Ferrus, dat Anastasia se dood ’n “verlies vir die land, vir Afrikaans” is.

Hierna volg ’n huldeblyk geskryf deur emeritus professor Lizette Rabe, wat departementshoof was terwyl Anastasia by die Departement Joernalistiek gewerk het.

 

Rouklag vir Anastasia

 

Anastasia, Antjie. Dit is geen wonder almal wat van jou skielike weggaan verneem het, het met soveel skok en soveel trane daarop reageer nie.

Antjie? Ons Antjie? Nie meer nie?

Anastasia de Vries, ja. Dié Anastasia wat Afrikaans kon skryf dat jy nie weet of jy lag van die huil of huil van die lag nie. Die Anastasia wat ’n mens weer trots op Afrikaans gemaak het. Dié Anastasia wat ʼn mens weer leer glo het Afrikaans het ’n toekoms. Dié Anastasia wat ’n hele generasie studente Afrikaans nuut laat ontdek het en leer liefkry het.

Dié Anastasia wie se rubrieke gebundel moet word, het ek, elke keer wanneer ons kontak gehad het, gesê. Ja, in 2010 is die Rapport-rubrieke gebundel as Baie melk en twie sykers. Maar daar is ’n skatkis nuwe rubrieke wat gemyn moet word.

En nou is dit verlede tyd. En die woorde stol, want dis oor jou, Antjie-Anastasia, dat die trane rol.

Anastasia, die veelsydige, wat Afrikaans laat weerklink het. In ons geval: Deur die Rykie van Reenen-genootskapspos wat deur Media24 geborg is aan die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Die Rykie van Reenen-genoot moes honneursstudente as beginnerjoernaliste oplei. Van hoe ’n intro moet weerklink, tot die slotsin wat alles netjies afsluit. En alles tussen-in.

Anastasia was 2009 se Rykie. En wat ’n voorreg vir die klas van 2009 dat hulle vir Anastasia as hul Rykie kon hê. Waar hulle nie net van intro’s en slotsinne en alles tussen-in geleer het nie, maar ook van deernis en medemenslikheid. En waarnemingsvermoë: Met al jou antennas gespits, om elke vibrasie te kan optel. Sodat jy ook begrip kon hê vir die storie agter die storie. Die beginnerjoernaliste van 2009 het ’n nuwe liefde vir Afrikaans ontdek, daar uit die taal se baarmoeder, uit die jaarts van Ravensmead.

Anastasia het in haar rubrieke geskryf waarvan die hart oorloop. Sy het ons dag en dae verwoord. Soos in een van haar laaste rubrieke, waar sy skryf hoe ’n sleg dag – wanneer “jou hele lyf huil, behalwe jou oë”, en jy “in ’n hoekie op ’n hopie loop lê en die dae in jou eie arms lê en omsnik, al weet jy nie waaroor nie” – in ʼn “noenoesdag” kon verander. “Noenoes”: ’n Sagte dag. ’n Omgeedag.

Dankie vir die generasie studente wat jy van omgee geleer het, Anastasia. Hoe ons almal kon leer van menslikheid, van deernis, van omgee. Hoe bevoorreg was ons.

Anastasia in Grieks beteken Opstanding. Dit beteken jy bly tog, al is jy nie meer nie. Mag jou naastes ook vertroosting dáárin vind.