Prof Arrie de Beer: Joernalistiek groet ‘n pionier

[Article by Marenet]

“Professor Arrie de Beer was ’n pionier in die staanmaak van die joernalistiek as wetenskap in die akademie”, is die mening van prof Lizette Rabe, voorsitter van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Rabe sê hulle as kollegas is geskok oor die skielike heengaan van prof De Beer. Ná sy aftrede in 2002 as emeritus-professor aan die Noordwes-Universiteit (voorheen die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, of die PUK, soos dit toe bekend was) het hy hom op Stellenbosch gevestig. Hy was sedert 2003 in verskillende hoedanighede betrokke by Stellenbosch se nagraadse departement joernalistiek, waarvan sedert 2006 as buitengewone professor.


Prof Arrie de Beer. Foto: FB/Nagkantoor

Prof De Beer word beskou as dié pionier wat die joernalistiekpraktyk as joernalistiekwetenskap in die Afrikaanse akademie gevestig het. Sy baanbrekerswerk vir akademiese opleiding aan tersiêre instellings sedert die 1970’s in Suid-Afrika word wyd erken. Buiten dié pionierswerk in die
Afrikaanse media-akademie was hy ook die stigter van ’n hoog-aangeskrewe akademiese joernaal, Ecquid Novi. Dit is in 1980 gestig en die joernaal word vandag as African Journalism Studies uitgegee. Die term “ecquid novi” het prof De Beer geneem uit die heel eerste dissertasie oor die joernalistiek wat die vraag gevra het: “Wat is nuus?” Dit was die werk van Thomas Peucer, in 1690 gedoen aan die Universiteit van Leipzig, met die titel “De Relationibus Novellis”, natuurlik in Latyn geskryf. Daarin word gevra “ecquid novi?” – of “wat is nuut?” of “wat is nuus?”.

 

Prof Herman Wasserman van die
Universiteit van Kaapstad (voorheen van
die Universiteit Stellenbosch) en Prof Arrie
de Beer.

Prof De Beer was die afgelope byna twee dekades ’n instelling op Stellenbosch, waar hy deel van die dorp se koffiehuiskultuur geword het as ’n gereelde gesig by sy gunsteling-koffiehuis – en waar hy gereeld hof gehou het en insigte en wysheid gedeel het met wie ook al die afspraak was.

Prof De Beer was ’n oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein en het as Stellenbosser in sy later jare gespot hoe moeilik dit was om vir sy kleinseun as Paul Rooser teen sy oud-skool te skree by die jaarlikse interskole-stryd.

Ná sy BA en Hons, laasgenoemde in 1966, aan die destydse PUK, het hy sy joernalistiekloopbaan by Die Burger en Die Transvaler begin, waarna hy redakteur van die Ensiklopedie van die Wêreld was voordat hy hom tot die akademie gewend het. Sy MA aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit het gevolg, asook ’n tweede M-graad aan die Baylor Universiteit in die VSA. In 1981 het hy sy PhD aan die destydse PUK behaal.

 

 

Prof Arrie de Beer en Tobie Wiese,
voormalige Rykie van Reenen-genoot.

 

As akademikus was prof De Beer hoof van die departemente kommunikasie aan die Vrystaat Universiteit, asook, met sy aftrede, aan Noordwes. Hy was ook ’n lid van die destydse SAUK Raad. Prof De Beer het ook sy eie navorsingsentrum, iMasa (Institute for Media Analysis), bestuur, waar hy navorsing gedoen het vir organisasies en maatskappye oor onder meer mediadekking, maar ook oor onderwerpe soos mediavryheid, gender en opvoeding.

Vir sy werk is hy onder meer in 2000 bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se heel eerste Stals-prys vir Kommunikasiekunde en Joernalistiek. Hy was navorsingsgenoot aan universiteite in onder meer die VSA, Nederland, Israel en Skandinawië. Prof De Beer was ook redakteur van verskeie seminale publikasies, onder meer van Mass Media towards the Millennium (Van Schaik, 1998) en Global Journalism (Pearson, 2008). Hy was tot sy dood as Afrika-koördineerder betrokke by die studie getiteld Worlds of Journalism, die grootste internasionale projek tot op datum wat die rol van die joernalistiek ondersoek.

Die Departement Joernalistiek huldig ʼn pionier wat met sy bewese gespesialiseerde kundigheid, asook ’n hoë professionele en vakkundige status, die Suid-Afrikaanse media-akademie internasionaal ʼn staanplek gegee het. Ons innigste simpatie gaan aan die De Beer-familie.